Created Thursday 11 August 2011
Matt.13 - Gelykenisse
Matt.13:1-23 - Die gelykenis van die Saaier
1 En op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit. 2 En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in 'n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan. 3 En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: 'n Saaier het uitgegaan om te saai; 4 en terwyl hy saai, val 'n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet. 5 En 'n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; 6 maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. 7 En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. 8 En 'n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd—, die ander sestig—, die ander dertigvoudig. 9 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! 10 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. 15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. 16 Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. 17 Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie. 18 Luister julle dan na die gelykenis van die saaier. 19 As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is — dit is hy by wie langs die pad gesaai is. 20 En by wie op rotsagtige plekke gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; 21 maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir 'n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. 22 En by wie in die dorings gesaai is — dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. 23 En by wie op die goeie grond gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd , die ander sestig—, die ander dertigvoudig.
---===---
Waarom lê sommige christene(bv. sommige sendelinge) hulle lewens vrywillig af vir die evangelie terwyl ander nie kans sien daarvoor nie?
Is mense soos Jim Elliot, David Brainerd, William Carey, Jan Huss, Eric Liddel, William Tyndale en die apostels besonders mense op een-of-ander manier? Of is hulle maar gewone mense soos ons? Dit is diegene wat vrug dra en oplewer. Ek dink dat die groot rede vir die besonder vrug is omdat hulle 'n besonder insig in God se genade gekry het, eerder as dat hulle besonderse mense was. Enige-een van ons kan dieselfde vrug dra, maar net as ons regtig besef wat die Vader in Jesus vir ons gedoen het.
---===---
Matt.13:24-30, 36-42 - Die gelykenis van die saad
24 'n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het; 25 maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. 26 En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. 27 En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? 28 En hy antwoord hulle: 'n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? 29 Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. 30 Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
---
36 Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. 37 En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, 38 en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, 39 en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. 40 Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: 41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, 42 en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 43 Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
---===---
Is die slegte vrug wat soms in "christene" se lewens wys die gevolg van "slegte saad"? Is daar iets fout met die boodskap?
Nee! Die rede waarom U nie die slegte mense heeltemal verwyder nie, is omdat U nie in die proses die regverdiges wil seermaak nie. Soos die oes ryp word, sal die verskil al hoe duideliker word (vgl. Open.22:11).
---===---
Die koninkryk begin klein, maar word groot (Matt.13:31-35)
31 'n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man neem en in sy land saai; 32 wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en 'n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke. 33 'n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. 34 Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; 35 sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af.
---===---
Dit is 'n koninkryksbeginsel
Ek moenie vaskyk teen hoe klein iets is wat U vir my gee om te doen nie: in U koninkryk het dit 'n groot effek! U het begin met net 12 dissipels (apostels).
---===---
Matt.13:44-46 - Die gelykenisse van die skat en die kosbare pêrel
44 Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. 45 Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; 46 en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.
---===---
Die waarde van die koninkryk
Om die ewige lewe te hê, die lewe saam met U, is die moeite werd. Die blydskap daaroor is alles werd wat ek het. Dit sal dit ook kos... as ek nie bereid is om alles te verkoop nie, sal ek nie die saailand met die kosbare skat kan bekostig nie. Ek sal nie kan volhou om U te volg en vrug te dra as ek nie alles opgee nie.
---===---
Matt.13:47-50 - Die gelykenis van die visnet
47 Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; 48 en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg. 49 So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei 50 en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
---===---
Die voleinding van die wêreld
Dit is Ú koninkryk (sien ook verse 36-43 hierbo). Die engele sal dit skoon maak vir U. Eers dán sal dit duidelik gesien kan word wie is deel van U koninkryk en wie nie. Hierdie gelykenis (en ook die gelykenis van die saad) leer dieselfde ding wat nie strook met ons tipiese "wegraping" verwagting nie. U is besig om U koninkryk op aarde te vestig. Alhoewel daar nog slegte mense tussenin is (en selfs die meerderheid is), sal U hulle uit U koninkryk uit verwyder met die voleinding. Dit impliseer ook dat dit waarmee ons op aarde besig is nie bloot 'n oefensessie vir die hemel eendag is nie, maar dat dit wat ons van U koninkryk op aarde vestig, sal bly staan (ten minste tot in die vrederykstydperk).
---===---
Matt.13:51-52 - Skrifgeleerde in die koninkryk
51 Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here! 52 Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat 'n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos 'n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.
---===---
Die koninkryk is die skat van die Ou Testament!
Iemand wat die Ou Testament ken ('n skrifgeleerde), sal die koninkryk kan waardeer, want beide die ou dinge wat hy reeds geweet het en nuwe dinge, waaraan hy nooit eers gedink het nie, sal dan tot sy beskikking wees.
---===---
Matt.13:53-58 - In Nasaret
53 En toe Jesus hierdie gelykenisse geëindig het, het Hy daarvandaan weggegaan. 54 En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan? 55 Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie? 56 En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan? 57 En hulle het aanstoot aan Hom geneem. Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis. 58 En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.
---===---
Waarom word U beperk deur ongeloof?
As ons nie in U glo nie, gaan ons ook nie vir U die geleentheid gee om wonderwerke te doen nie! Hierdie is dalk ook een rede waarom U Paulus na die heidene gestuur het: want U het geweet dat sy eie volk nie sy boodskap sou aanvaar nie (hulle het U self dan nie eers aanvaar nie!). (Vgl. Hand.22:18)
---===---
Matt.14