Created Wednesday 03 August 2011
Matt.11:25-30
25 In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. 26 Ja, Vader, want so was dit u welbehae. 27 Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar. 28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30 want my juk is sag en my las is lig.
---===---
Om deel te hê aan die koninkryk/heerskappy van God, benodig nie groot wysheid en verstand nie! Sou ons dit anders verkies het? (Óns sou dit dalk graag so wou hê met ons evolusionêre denke, waar net die sterkste en beste oorleef. Maar dit is nie hoe U koninkryk werk nie.)
Alles is deur die Vader aan die Seun oorgegee. Jesus het die heerskappy ontvang vanaf Sy Vader. U is die Koning van die konings (Open. 19:16)!
Niemand kan U ken as Jesus U nie aan hom openbaar nie.
Here Jesus. ek is moeg en oorlaai en wil vandag na U toe kom. Ek wil by U leer sodat ek rus kan vind vir my siel. Wat moet ek by U leer? Die vernaamste wat U hier noem: dat U sagmoedig en nederig van hart is. Dít is die beeld wat ook in my gevorm moet word. Vergewe my asb. vir my eie hardnekkigheid, opstandigheid, eiewilligheid en hoogmoed. Net die teenoorgestelde van U. Ek kom gee myself weer vir U, om liggaam siel en gees aan U alleen te behoort en deur U Gees gelei te word. Lei my asb. in als wat ek vandag moet doen.
U weet dat ek dit nie in myself het nie, maar dit is deel van die vrug van U Gees. Kom vervul my asb. weer met U Heilige Gees!
In Jesus se Naam
Amen
--===---
Vader, was ek heeltemal oorgegee aan U? My vorige liefdes, het ek hulle regtig liefgehad of eerder myself en wat ek uit 'n verhouding sou kry? As ek nog net 3 maande oorgehad het om te leef, hoe sou my lewe anders gewees het? Maar ek het mos reeds gesterf en ek leef mos reeds nie vir myself nie! (Gal.2:20) Vergewe my asb. en laat my asb. nooit weer keuses maak met die oog op my aardse geluk nie nie, maar eerder omdat ek U liefhet en U liefde my dring.
Vergewe my asb. dat ek die afgelope tyd heeltemal deur my eie vleeslike begeertes beheer is (vgl. Gal. 5). Laat U Gees my asb. weer lei en my vul met U passievolle liefde!
Die huwelik is veronderstel om 'n beeld van U liefde vir U volk en gemeente te wees (vgl. Hosea & Efes.5:22-33), maar dit is nog nie die ware ewige liefde nie (Jer.31:3), maar net 'n afbeelding daarvan.