[ Prev ] [ Index ] [ Next ]

15-45

Created Wednesday 10 August 2011

Matt.12:15-45
15 Toe Jesus dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan, en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak, 16 en hulle 'n streng bevel gegee dat hulle Hom nie bekend moes maak nie, 17 sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet: 18 Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel 'n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. 19 Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. 20 'n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en 'n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. 21 En op sy Naam sal die heidene hoop. 22 Toe het hulle 'n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. 23 En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie? 24 Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie. 25 Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. 26 En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan? 27 En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. 28 Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom. 29 Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof. 30 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. 31 Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. 32 En elkeen wat 'n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie. 33 Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken. 34 Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. 35 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. 36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. 37 Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word. 38 Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag 'n teken van U sien. 39 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. 40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. 41 Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier! 42 Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier! 43 En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. 44 Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. 45 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.

---===---
:14-15 - Toe Jesus bemerk dat die Fariseërs planne maak om hom dood te maak, het Hy weggegaan sodat Hy verder kon werk. Dit is die enigste geldige rede vir ons om aan te beweeg: sodat ons effektief kan werk. (Vgl. Matt.10:23)

:16-21 - As U mense gesond maak, beveel U hulle om stil te bly, sodat die Skrif vervul sou word dat U nie op straat sal uitroep of stry nie. Dit wys ook vir ons hoe ons U behoort te volg... sonder ophef en sonder om te twis.

:22-24 - U dade bring tweespalt: Weens U gesag om duiwels uit te dryf begin mense oorweeg of U die beloofde Messias (seun van Dawid) kan wees, maar die Fariseërs skryf dit aan Beëlsebul toe.

:25-29 - Waarom dit nie so kan wees nie: Satan se koninkryk staan nog: dit sou nie moontlik wees as hy teen homself verdeeld was nie. Hulle eie dissipels wat duiwels uitdryf sal hulle oordeel as verkeerd. Maar as dit deur die Gees van God gebeur, dan het die koninkryk gekom! U koppel die koninkryk van God hier direk aan die Heilige Gees (vgl. Johannes die Doper in Matt.3:11). Die sterk man moet eers vasgebind word voor sy huis geroof kan word. U is besig om die sterk man se huis te roof wanneer U duiwels uitdryf. Dis net moontlik as die krag van God hom reeds vasgebind het.

:30 - Saam met Jesus? Indien nie, is ek teen U. As ek nie saam met U bymekaarmaak nie, verstrooi ek. Óf ek trek mense na Jesus, óf ek stoot hulle weg.

:31-32 - Daarom - As ek die Gees van God misken en beledig, sal dit nooit vergewe word nie.

:33-37 - Hoe sal ons dan weet dat dit die Heilige Gees is? Aan die vrugte! (Vgl.Gal.5:22). Die boom is óf sleg, óf goed. U werk kan dus geoordeel word aan die vrug daarvan. Want wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Van elke ligsinnige woord sal ons rekenskap moet gee. As ons as slegte mense goeie dinge sê, oordeel ons eintlik onsself, want ons wys dat ons weet wat reg is. Daarom sal jy uit jou woorde regverdig word of veroordeel word.

:38-42 - Die teken van Jona, die enigste teken wat aan hulle gegee sal word. Daardie geslag (wat die teken gevra het) sal geoordeel word deur diegene (uit die heidene) wat hulle bekeer het op grond van Jona se prediking en Salomo se wysheid, want U is meer as Jona of Salomo!

:39-45 - As 'n bose gees uitgedyf word, kom hy later terug met erger duiwels as hyself. Só is dit erger as wanneer die gees nooit uitgedryf is nie. Dit help nie net om die bose uit te dryf as dit nie daarna gevul word met die goeie (U Gees) nie. Net so help dit nie om afstand te doen van sonde as ek U nie volg nie. Dit sal erger word as voor die tyd... dit is wat met daardie geslag sou gebeur (as hulle hul nie bekeer nie). Word gelei deur die Heilige Gees en wees aktief besig om te doen wat Hy my lei om te doen in Sy krag, dan sal daar nie tyd wees vir die sonde nie! Die kern is egter dat die Gees van God my moet vervul.
---
Vader ek bid dat U my asb. weer sal vervul met U Heilige Gees. Lei my asb. ook vandag om U wil in U krag te doen met U wysheid deur U Heilige Gees.
---

Matt.12:46-50


Backlinks: Matt.12