Created Thursday 04 August 2011
Matt.7:1-5
1 Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. 2 Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. 3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! 5 Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.
---===---
Die koninkryk van God (Deel 3)
Matt.6:33 - "Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word."
Daar is net 2 moontlike "bronne" van geregtigheid:
1. Eiegeregtigheid
2. U geregtigheid
Hulle sluit mekaar uit! Ons moet eers U geregtiheid soek (Vgl. ook Matt.5:6), dán sal al die ander dinge bygevoeg word.
"Vader, soms, selfs na ons bekering, keer ons weer terug na eiegeregtigheid = self probeer. Vergewe my asb. en leer my om volkome net op U te vertrou en uit U geregtigheid te leef."
Dít is ook dan waarom Matt.7:1 sê "Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie."
Matt. 7:2 : As jy oordeel: só sal jy geoordeel word! Sien mense eerder deur U oë, met hulle geregtigheid in U, as om na hulle eie geregtigheid te kyk of daarvolgens te oordeel (anders kan ek op grond van my eie "geregtigheid" eerder as U geregtigheid geoordeel word). Maar sien Jes.6 en Jes.64:6 i.v.m. my eie geregtigheid.
Opmerking: Matt.7:6 het 'n chiastiese struktuur:
1 Wat heilig is aan die honde gee nie
2 pêrels voor die varke gooi nie
2 dit met hulle pote vertrap
1 en omdraai en julle verskeur nie
(Dit wys dat Jesus waarskynlik Hebreeus/Aramees gebruik het, en is ook tipies van die taal in die Ou Testament)
Moenie met mense probeer praat oor die evangelie as jy nie van God se teenwoordigheid bewus is nie... jy kan dit nie in jou eie krag doen nie en kan self seerkry in die proses. As jy nie bid nie, nie afhanklik is nie, Hom nie meer vrees as mense nie, nie deur die Gees gelei word nie... vergeet maar. As ek nie soveel vir mense omgee dat dit my vrees vir verwerping (van my en/of die evangelie) oorkom nie, sal ek nooit sover kom om die goeie nuus te deel nie. Ek moet deur U oë kyk en U hart vir mense begin verstaan en vreesloos wees ter wille van hulle vir wie U aan die kruis betaal het net soveel as vir my. Een van die redes waarom die Heilige Gees my moet lei, is dit wat hier in Matt.7:6 staan: as hulle nie gereed is om dit te ontvang nie, sal hulle wat heilig is, vertrap en boonop omdraai om my kwaad aan te doen. Dit geld veral vir die "dieper" aspekte van geestelike groei en 'n oorgegewe lewe. Dit kan net verstaan word deur díe in wie die Gees werk en is oor die algemeen nie bedoel vir die wat nog buite die koninkryk staan nie.
Matt.7:7-11 : Bid volhardend en met verwagting omdat ons Vader in die hemel goed is.
Opsommend van alles tot hier toe: Matt.7:12 "Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete. "
Matt.7:13-23 :
1. Om die koninkryk te soek (wat veronderstel dat dit nie sommer net gebeur nie, maar iets kos) beteken om deur die nou poort in die gaan. (:13-14)
2. Pas dus op vir valse profete wat jou van die smal pad af terug wil kry op die breë pad na die verderf. Al dra hulle skaapsklere, sal hulle vrugte hulle weggee. (:15)
3. Goeie vrugte is die gevolg van 'n goeie boom. (As my vrugte dus nie na wense is nie, moet ek nie die vrugte probeer verander nie, maar toelaat dat die boom verander word). (:16-20)
4. Om net te sê dat Jesus Here is, beteken nie dat ek hom regtig as sulks erken nie. Ek moet totaal aan Hom oorgegee wees (= Hy is my Here) sodat Hy my kan verander om die Vader se wil te doen. (:21)
5. Wonderwerke in Jesus se Naam, beteken nog nie dat ek aan Hom behoort nie: dit is dus nie die gawes van die Gees wat bepalend is nie, maar die vrug van die Gees! Dít volg wanneer Jesus my ken, m.a.w. as ek regtig 'n persoonlike verhouding met U het. (:22-23)
Matt.7:24-27 : Dit is nie genoeg om net te hoor wat Jesus leer nie (net die Bybel te lees nie), maar ons moet dit doen en toepas! Anders gaan die val groot wees. Ons kan dink dat ons OK is en intussen ver van God wees en onder die oordeel val. Dit is 'n werklike moontlikheid en 'n "bekering" jare gelede is geen waarborg dat ek nou nog die vrugte van die bekering dra nie (Vgl. Matt.3).
Hierdie lering van Jesus was met gesag, anders as die lering van die Skrifgeleerdes. (:28-29)
---===---
Matt. 7:6 - 7:29
6 Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie. 7 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 8 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. 9 Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; 10 en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? 11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! 12 Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete. 13 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. 15 Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. 16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. 'n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! 17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 18 'n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. 21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! 24 Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. 25 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. 26 En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met 'n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. 27 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot. 28 En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; 29 want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.