Created Sunday 27 April 2014
(43) P: Die ewige verbond (sien (42))... Eseg.11:17-20 - Israel sal weer teruggebring word uit al die lande waarheen die Here hulle verstrooi het, na die land Israel. Die HERE sal hulle een hart gee en 'n nuwe gees sodat hulle Sy wette kan hou en doen. Hy sal die ou hart van klip uit hulle binneste neem en hulle 'n nuwe hart gee. Hy sal hulle God wees en hulle sal sy volk wees. Eseg.16:60-63 - In die konteks van Israel se ballingskap weens hulle sonde: Die HERE sal daarna weer Sy oorspronklike verbond onthou en 'n ewige verbond met Israel sluit. Israel sal weet dat Hy die HERE is, nadink en skaam staan weens hulle sonde, wanneer Hy hulle sondes versoen. En Jerusalem se susters (Sodom en Israel - kleiner sowel as groter/sterker volke) sal vir haar bygevoeg word (sien (37)), alhoewel dit nie deel van die (oorspronklike) verbond was nie. Eseg.36:24-27 - Hy sal hulle terugbring na hulle land sodat die nasies kan weet dat Hy die HERE is. Hy sal hulle reining van al hulle onreinhede. Hy sal hulle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee. Hy sal Sy Gees in hul binneste gee sodat hulle volgens Sy wil sal lewe. Hulle sal sy volk wees en Hy hulle God.
(44) MP: Eseg.21:25-27 - Die kroon (=heerskappy) moet af vanaf die laaste koning van Juda se hoof... totdat Hy kom wat daarop reg het (aan wie die regspraak behoort) - Sien (7), (24), (25), (33) en (41) - Die Regverdige Koning = die Gesalfde/Messias.
(45) MP: Eseg.34 - Hierdie hoofstuk begin met woorde van oordeel oor die "herders" van Israel wat die volk verdruk en hulleself verryk. Dan die belofte van die toekomstige Herder (sien (23)). Die HERE self is eerstens die Herder wat sy skape weer sal red, die wat verlore is, sal soek, die beseerdes sal verbind, die siekes sal versterk. Maar dan sê Hy dat die Herder wat Hy gaan verwek sy Kneg (sien (37)), Dawid, is. Hy sal 'n verbond van vrede met hulle sluit (sien (43), (49) en (42). Israel sal veilig in hulle land woon en weet dat Hy die HERE is.
(46) MP: Eseg.37 - Die opstanding uit die dode (sien Jes.26). Alhoewel dit ook metafories mag wees van Israel se terugkeer na hulle land, sal hulle weet dat Hy die HERE is as Hy hulle grafte oopmaak en hulle uit hulle grafte laat opstaan (sien (35))en hulle laat rus in hulle eie land. Hy sal Sy Gees in hulle binneste gee om hulle weer lewend te maak (vgl. (43) hierbo). Hy sal die twee koninkryke, Israel en Juda (verdeel sedert die tyd van Salomo se seun) weer een maak. En Sy Kneg Dawid (sien (45) en (37)) sal Koning en Herder ((45) en (23)) oor hulle wees. Die Here sal hulle verlos en hulle reinig van al hulle sondes (43). Hy sal 'n ewige verbond van vrede met hulle sluit ((43) en (42)). En Sy kneg Dawid sal vir ewig oor hulle regeer as vors (sien (16) (24) (25) (26) (29) (33) (41)). Dan.12 - Migael, die vors (engel?) van Israel sal opgerig word in díe dae (sien (35) (49)). Dit sal 'n tyd van groot benoudheid wees, maar Israel sal gered word, elkeen wat in die boek opgeskryf staan. En baie wat dood is (in die stof van die aarde slaap) sal opstaan, party tot die ewige lewe en party to ewige skande.
---===---
Daniel
Miga
Opsommend