[ Prev ] [ Index ] [ Next ]

Psalms

Created Friday 21 June 2013

Baie (die meeste) Psalms word met Dawid geassosieer. Hy is die een aan wie die belofte van die Gesalfde Koning gegee is (Sien 2 Sam.7:12-16 en 1 Kron.17:11-14 (16)). In 'n sekere sin is hy ook die vervulling van vroeëre profesieë oor die een wat Moab gaan oorwin (Num.24:17 (11)), alhoewel hy nie al die oorlogsugtiges omver gewerp het nie... Dawid is daarom as gesalfde van die HERE (soos Moses) 'n skadubeeld van die Gesalfde van die HERE wat gaan kom en baie van die Psalms wat hy geskryf het, gee 'n poëtiese afbeelding van 'n aspek van die Gesalfde wat sou kom. Sommiges is bloot poëtiese taal in Dawid se lewe, maar is later letterlik in die Here se Gesalfde vervul.

(20) S: Ps. 2: Die nasies woel en hulle leiers beraadslaag teen die HERE en Sy Gesalfde. Die Here het Sy Koning gesalf en vir Hom gesê dat Hy (die Gesalfde) Sy Seun is. Die HERE sal nasies gee as die erfdeel vir Sy Gesalfde en die eindes van die aarde as Sy besitting (vgl. Gen. 49). Hy sal hulle verpletter met 'n ysterstaf soos 'n erdepot (Vgl. ook Num.24:17). Daarom moet die konings hulle laat waarsku: dien die HERE met vrees en juig met bewing; soen die Seun (van God - sien hierbo); Salig is almal wat by Hom skuil (op Hom vertrou). Sien ook Ps.18.

(21) SS: Ps. 16: Dawid as 'n vooruitskadu van die Messias wat by die HERE skuil. Die Here sal Sy siel nie verlaat in die doderyk (sheol) en nie toelaat dat hy vernietiging/verotting (שחת) sien nie. Dit was nie waar van Dawid self nie! Hy het wel gesterf en is begrawe. Maar as die Gesalfde vir ewig sal regeer (sien (16) (2 Samuel en 1 Kronieke), dan word hierdie woorde letterlik deur Hom vervul. Sien ook Ps.20, Ps.21, Ps.61:6-8.

(22) S: Ps.22: "My God, my God waarom het U my verlaat?" Jesus se woorde aan die kruis. Weereens, wat Dawid poëties geskryf het, is letterlik deur die toekomstige Gesalfde vervul (sien vers 15-19). Vgl. ook Jes.53

(23) SS & MP: Ps.23: Die HERE is my herder (Jes.40:11). Maar later (lank na Dawid self, sien Eseg.34:11-16, 23-31) word daar spesifiek gepraat van die kneg van die HERE (sien Jes.53 (37)), Dawid, (die Gesalfde), wat 'n goeie herder vir die volk gaan wees. Die Herder soek die wat verlore is en verbind die gewondes.

(24) S: Ps.45: 'n Liefdeslied vir die Gesalfde Koning. Die Gesalfde is God? Mooier as mensekinders (Sien Gen.49), genade op sy lippe uitgestort, vir ewig deur God geseën. Ry voorspoedig uit vir die saak van waarheid en ootmoedige (sagmoedige/nederige) geregtigheid (על דבר אמת וענוה צדק). Hy is God wie se troon vir ewig en altyd is en die septer (Sien Gen.49 en Num.24) van sy koninkryk is 'n regverdige septer (sien (33)). Daarom het God, sy God Hom met vreugde-olie gesalf bo sy vriende. Sy Naam word onthou van geslag tot geslag en volke sal Hom loof vir ewig en altyd (sien (20) hierbo en (46)).

(25) S (MP?): Ps.72: 'n Gebed vir die gesalfde koning in aansluiting by die belofte van 2 Sam.7:12-16 en 1 Kron.17:11-14 (16). Gee aan hom die geregtigheid van die HERE sodat Hy met geregtigheid sal oordeel. Die berge en heuwels sal vrede dra vir die volk (Israel?) deur geregtigheid. Hy sal aan die ellendiges en behoeftiges reg verskaf en hulle verlos (Jes.11), maar die verdrukkers verbrysel (vgl. Ps.2 (20) en Num.24). Die regverdige sal bloei en volheid van vrede (sien Jes.9:6) totdat die maan nie meer is nie. Hy sal heers tot by die eindes van die aarde (sien Ps.2) en al die nasies sal Hom dien. Hy red die arme, ellendige en behoeftige (sien (23) hierbo). Al die nasies sal in Hom geseën word (sien Gen.22:15-18 (4)).

(26) S: Ps.89: Herinner die Here aan Sy beloftes aan Dawid (16). Dawid sal God sy Vader noem (20), Hy sal die Eersgeborene wees, die hoogste onder die konings op aarde en Sy nageslag (saad) sal vir ewig wees. Ps.132: Deel van Salomo se gebed by die tempelwyding (sien (34)). Daar sal vir altyd uit die nageslag van Dawid op sy troon sit.

(27) S: Ps.110: Nie duidelik 'n profesie nie, maar tog duidelik meer as net 'n lofpsalm. Die HERE sê vir Dawid se Here om aan Sy regterhand te sit (die ere-plek vir iemand met gelyke status - wie is Dawid se Here anders as die Gesalfde??) tot Hy sy vyande tot voetbank vir sy voete gemaak het. Sy magtige septer sal uit Sion (Jerusalem) uitgesteek word om oor sy vyande te heers (Sien (24), (7), en (11)) Hy is 'n priester volgens die orde van Melgisédek vir ewig. Hy oordeel oor nasies en Hy verbrysel die hoof oor 'n groot land (Sien (20) en (24)).

(28) SS: Ps.118:15-26: Die regterhand van die HERE (Sien Jes.53:1). Die poorte van geregtigheid waardeur net die regverdiges mag gaan (Vgl. Ps.24). Die kosbare hoeksteen: "Die steen wat die bouers verwerp het, het 'n hoeksteen geword". Sien ook (Jes.28:16). Gevolg deur die woorde waarmee die skare Jesus begroet het toe Hy Jerusalem binnekom het op 'n donkie (in vervulling van Sag.9:9-11).

(29) S: Ps.145: Die koninkryk van God is 'n ewige koninkryk. Sy geheiligdes verkondig die heerlikheid van Sy koninkryk en vertel van Sy krag. Dan.7 vertel ook van 'n koninkryk wat 'n ewige koninkryk is (die Seun van die mens se koninkryk - sien ook (24)).
---===---
Spreuke
Opsommend


Backlinks: Home Jes.53 Jes.9 Genesis Gen.22 2Sam.7 Gen.49 2Samuel Num.24 Numeri 1Kronieke Job Ps.2 Ps.16 Ps.18 Ps.21 Ps.20 Ps.22 Ps.23 Eseg.34 Ps.45 Ps.61 Ps.72 Ps.89 Jes.40 Ps.110 Ps.118 Ps.24 Jes.28 Sag.9 Ps.132 Jes.11 Ps.145 Dan.7 Jesaja Opsommend Daniel Jeremia Esegiel Sagaria