Created Thursday 07 November 2013
(32) P: Jes.2:1-5: Die einde van die dae (acharit ha-jamim - באחרית הימים). Uit Jerusalem sal die onderwysing (Torah) en die Woord van die HERE uitgaan. Volke sal optrek na die huis van die HERE om Sy weë te leer en in Sy paaie te loop (Hom te gehoorsaam). Die Here sal oordeel oor die nasies (sien (20), (24), (25) (Ps.22,45,72)) en vrede bring (snoeiskêre van hulle spiese en ploegskare van hulle swaarde). So ook Mig.4:1-4, Jes.56:6-8, Hos.2. Sy huis sal 'n huis van gebed vir alles nasies wees en Sag.8, hulle sal die Here van die Leërskare in Jerusalem soek en Hom om genade smeek. Alhoewel die Gesalfde nie direk genoem word nie, is daar 'n ooreenkoms met die vroeëre beloftes dat Hy regverdig oor alle nasies sal oordeel en met vrede sal regeer (Ps.72). Die hele Jesaja 2 tot 5 is eintlik een profesie wat begin met Jerusalem aan die einde van die dae, dan hoe sondig Jerusalem tans is, dan die komende oordeel oor Jerusalem en dan weer die uiteinde van die oorblyfsel (Jes.4:2-6): Die Spruit van die HERE (צמח יהוה) (sien Jes.11:1, Jer.23:5 en 33:15: Die Spruit van Dawid (16), Sag.3:8, 6:12) sal tot eer en sieraad wees; en die oorblywendes sal heilig genoem word nadat die HERE die onreinheid en bloedskuld weggewas het uit Jerusalem; en (soos na die uittog uit Egipte) sal die HERE weer self teenwoordig wees in die wolk en vuurkolom, maar nou bo elke huis in Jerusalem. Dit sluit af met 'n lied, 'n gelykenis van Jerusalem as die wingerd van die HERE en hoe Hy Jerusalem versorg het en goeie vrug verwag het, maar nou, omdat dit net wilde/groen druiwe gelewer het, gaan Hy dit verwoes en wild laat word (Jes.5).
(33) MP: Die Immanuel / Netzer / Takkie / Loot (Spruit) / geboorte profesie. Die hele Jesaja 7 tot 12 is basies een lang profesie. Dit sluit in profesie oor die nabye toekoms (die wegvoer van die 10 stamme van Israel en oorwinning oor Aram-Damaskus) sowel as die vere toekoms. Jes.7:14: Die Here self sal 'n teken (אות) gee: 'n Seun wat gebore sal word uit die maagd/jongmeisie (almah), God-met-ons. Alhoewel dit in die konteks van 'n voorspelling oor die nabye toekoms gegee word, dui dit nie op Jesaja se seuns nie (Shear-jashuv: 'n Oorblyfsel-sal-terugkeer en Maher-shalal-chash-baz : Netnou-is-daar-buit-gou-is-daar-roof). Op wie dan? Net 'n bietjie verder sien ons dat dit meer sê oor die Seun in Jes.9: die heerskappy is op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbaar (Pele), Raadsman (Joetz), Sterke God (El Gibbor), Ewige Vader (Avi-Ad), Vredevors (Sar Shalom). Hy is die Seun van Dawid wat volgens die belofte (sien (16)) sal regeer. Hy verbrand die oorlogswapens (Sag.9). In Galilea (die streek van die heidene, Sebulon en Naftali) sal Hy as helder lig skyn. Hy heers met vrede sonder einde, met geregtigheid en reg (sien (24) en (25); Ps.45 en 72) tot in ewigheid (46). Jes.10: 'n Oorblyfsel van Israel sal terugkeer na Hom. Jes.11:1-13 Hy is die takkie (חטר) wat uitspruit uit die stomp van Isai (Dawid se pa), die Loot (נצר - Netzer: sien Matt.2:23, (41)) uit sy wortels wat sal vrug dra. Die Gees van die HERE rus op Hom, die Gees van wysheid (chochmah) en verstand (binah), van raad ('atzah) en sterkte (gvorah), van kennis (da'at) en die vrees van die HERE (jirat JHWH) (Vgl. Sy Name in Jes.9). Hy sal nie volgens die uiterlike (wat sy oë sien en ore hoor) oordeel nie, maar regverdig die armes en sagmoediges rig. Hy sal die aarde/land slaan met die septer van Sy mond (vgl. Ps.2) en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. Geregtigheid en getrouheid sal Sy gordel wees. Daar sal selfs vrede tussen roofdiere en vee wees! Die nasies sal na Hom vra, die wortel van Isai. En Israel sal weer versamel word. Dit eindig met 'n lofsang in Jes.12.
(34) S: Die Rots van struikeling; die hoeksteen. Jes.8:10-18: As hulle die HERE van die Leërskare heilig, sodat Hy hulle vrees en verskrikking is, dan sal Hy 'n Heiligdom wees (vgl. (16), (17) & (26)), maar vir die twee huise van Israel, 'n klip waaroor mens val en 'n rots waaroor mens struikel, 'n vangnet en 'n strik. Ps.118:19-26: Die HERE het tot verlossing (Jeshuah) geword (Sien ook Jes.12:2 hierbo (33)). Die steen wat die bouers verwerp het, het 'n hoeksteen geword. Hy kom van die HERE en is wonderbaar (Sien Jes.9:5). Jes.28:16: Die Here lê in Sion (Jerusalem) "'n grondsteen, 'n beproefde steen, 'n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is". Sag.3:8-9: Díe steen het 7 oë, is gegrafeer en die skuld van die land sal op een dag uitgedelg word. En die Spruit (צמח), die Kneg van die Here (sien (33) en (37)), word direk met die steen in verband gebring.
(35) P: Jes.24-35: Die dag van die HERE (Daardie dag...(Sien (46), (49))) - weereens 'n profesie wat beide die verre toekoms en die nabye toekoms insluit. Jes.24:21-23 - In daardie dag sal die HERE oordeel oor beide die hemelse leër (Sien Ps.82) en die konings op aarde. Hulle sal eers opgesluit word, maar na baie dae, finaal geoordeel word. Die maan sal rooi word van skaamte en die son sal skaam wees, want die HERE sal in heerlikheid regeer in Jerusalem. Jes.25:6-9 - Op hierdie berg (Sion = Jerusalem) sal Hy 'n feesmaal vir alle volke berei en die sluier wat die volke bedek het, vernietig. Hy sal die dood vernietig, die trane van alle gesigte afvee en die skande van Sy volk wegneem. En hulle sal sê dat Hy die God is waarop hulle gehoop het en bly wees in Sy verlossing (Jeshua-to). Jes.26:19-27:1 - Die dooies van die HERE sal weer lewe en opstaan (sien (46)) en die HERE sal die bewoners van die aarde oordeel (hulle ongeregtighede oor hulle besoek). Die slang (vgl. Gen.3) , die Leviátan, sal in die dag doodgemaak word. Jes.28:5-6, 10-17 - Die HERE sal in die dag tot kroon wees vir die oorblyfsel van Sy volk. Omdat hulle nie na Hom wou luister nie, sal Sy woord vir hulle word reël op reël (vgl. ortodokse Jode vandag en die Fariseërs in die tyd van Jesus), maar Hy sal die kosbare hoeksteen in Jerusalem lê en reg en geregtigheid as riglyn aanlê (vgl. (33) en (34) hierbo). Jes.29:13-15, 18-24 - Omdat Israel naby die Here is met hulle mond en Hom eer met hulle lippe, maar hulle hart ver van Hom af is, terwyl hulle respek vir Hom bloot mensgemaakte wette is, sal Hy wonderlike dinge met hulle doen... en die wysheid van hulle wyses sal vergaan. Die dowes sal Skrifwoorde hoor en die blindes sal sien, die nederiges sal vreugde op vreugde in die Here hê en die behoeftiges sal in Hom juig (vgl. Matt.5:1-12). Die tiran, spotter en ongeregtiges sal vernietig word (sien Jes.9:3-4) en die Here sal deur Israel geheilig word. Jes.30:26-33 - Die son en maan sal helderder skyn as ooit tevore (vgl.Jes.8:23-9:1 (33) en Jes.60) en die Here sal kom as 'n verterende vuur en die nasies sif. Jes.32:1-5, 15-18 - 'n Koning sal heers in geregtigheid... en die paleis sal verlate wees totdat die Gees uit die hoogte oor ons uitgestort word. Dan is die geregtigheid in die woestyn en die woestyn word 'n vrugteboord, die vrugteboord 'n bos en die geregtigheid bring vrede tot in ewigheid. Jes.33:5-6, 17-24 - Die HERE vervul Jerusalem met geregtigheid en 'n rykdom van volle verlossing (Jeshuat), wysheid en kennis en die vrees van die HERE as skat. Hulle oë sal 'n koning sien in 'n wye land... die HERE is ons Koning, Regter en aanvoerder, Hy sal ons verlos. Geen inwoner sal meer siek wees nie en die mense wat daar woon, se skuld sal vergewe wees. Jes.35:3-10 - God kom met wraak, met goddelike vergelding, Hy self sal kom verlos. Die blinde sal sien en die dowe sal hoor, die lamme sal rondspring en die stomme sal van vreugde sing. Strome water sal in die wildernis uitbreek. Daar sal 'n grootpad wees, die Heilige Weg, en selfs dwase sal nie daarop dwaal nie. Geen onreine of roofdier sal daarop kom nie, maar verlostes... "en die losgekooptes van die HERE sal terugkeer en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg".
(36) P: Jes.40:3 - 'n Stem wat roep in die woestyn: "Maak gereed die grootpad vir die Here!" (sien Jes.35:3-10 (35) hierbo). Die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word en alle vlees sal dit sien.
(37) DP: Die Kneg van die HERE. Soos die term "Gesalfde" word verskillende persone (bv. Abraham (Gen.26:24) Moses (Eks.14:31) en Dawid (Ps.89:4)) ook soms 'n kneg/dienaar van die HERE genoem (maar sien ook Sag.3:8-9 wat hierdie titel direk met die Spruit verbind (33)). Hierdie reeks profesieë in Jesaja is egter duidelik Messiaans in die lig van die vorige profesieë. Jes.42:1-10 - Hy is die Uitverkorene in wie die HERE 'n welbehae het en ondersteun. Die Gees van die HERE is op Hom (sien (33) hierbo) en Hy bring die reg uit na die nasies (vgl. Jes.11:1-13). Hy sal nie skree en op straat uitroep nie; die geknakte riet nie breek nie, maar getrou die reg uitbring. Hy sal self nie verdof of geknak word voor Hy nie eers die reg op aarde gegrond het nie. Die eilande wag op sy leer en Hy word as verbond vir die volk (Israel) en lig vir die nasies gegee om blinde oë oop te maak (vgl. Jes.29:18) en gevangenes vry te laat (vgl. Jes.61:1-3). Jes.49:1-13 - Hy roep die eilande en die volke van ver om na Hom te luister. Hy is geroep van die moederskoot af en Sy Naam is deur die HERE genoem. Sy mond is soos 'n skerp swaard (sien (33) hierbo) en Hy is soos 'n skerp pyl wat deur die HERE weggesteek word. Hy is Israel, die kneg van die HERE in wie die HERE verheerlik word. Al sou Hy sê dat Hy sy krag spandeer het vir niks (Sien Daniël 9 (48)), Sy reg en loon is by sy God. Hy is van die moederskoot af deur die HERE gevorm om (as Sy kneg) Israel terug te bring na Hom (m.a.w. Hy is nie die volk Israel nie, maar moet Israel terugbring na God). Maar dit is te min dat Hy net Israel sal terugbring, Hy sal 'n lig vir die nasies wees (Sien Genesis, (2)-(6)) en die HERE se verlossing (Jeshua-ti = "my Jesus/my Verlossing" in Hebreeus - sien (13) en Sag.6) tot aan die eindes van die aarde! Hy is verag en 'n afsku vir die volk (Israel) (Sien Jes.53:2-3), maar konings sal sien en neerbuig ter wille van die HERE wat Hom uitverkies het. Op die dag van verlossing sal die HERE Hom help (41). As verbond vir die volk (sien Jes.42:6, (42), (43)) bring Hy vryheid vir die gevangenes en lig vir die in duisternis. Hy sal hulle lei na waterstrome (Sien (23) Ps.23). Jes.50:4-10 - Die HERE het Hom 'n geoefende tong gegee om die vermoeides met woorde te versterk. Die Here maak Hom elke môre wakker om te luister soos die dissipels (leerlinge) en Hy was nie wederstrewig en het nie teruggedeins nie. Hy gee sy rug vir díe wat slaan en sy gesig vir die wat die hare uittrek en daarin spoeg. Maar die Here help Hom sodat Hy nie beskaamd sal staan nie. Die Here sal Sy reg verskaf. Die wat die HERE vrees en na sy Kneg luister, wat in donkerte wandel (sien (33) hierbo), moet op die Here vertrou. Jes.52:6-53:12 - Israel sal die HERE se Naam leer ken (sien Hos.2). Die Goeie Nuus van vrede en verlossing sal aan Sion (Jerusalem) verkondig word, dat haar God Koning is. Hulle sal sien hoe Hy terugkeer na Sion (vgl. Sag.8 en Sag.9). Jerusalem moet jubel, want die Here het sy volk vertroos en Jerusalem verlos. Sy arm sal sigbaar word vir die nasies en die eindes van die aarde sal Sy verlossing (Jeshuat) sien. Sy Kneg sal voorspoedig en hoog verhewe wees. Sy voorkoms sal misvorm wees, nie meer soos 'n mens nie. Hy sal nasie besprinkel (of nasies laat opspring: beide vertalings is moontlik) en koning sal verstom word deur Hom. Want hulle sien wat nie aan hulle vertel is nie en verstaan wat hulle nie gehoor het nie. Wie het geglo wat verkondig is (die Goeie Nuus hierbo) en wie het die arm van die HERE gesien/herken? Hy spruit uit soos 'n loot en soos 'n wortel uit droë grond (sien (33) hierbo). Hy het geen voorkoms of heerlikheid dat ons Hom sou begeer of na Hom sou opkyk nie. Hy is verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en wat siekte geken het. Hy is iemand vir wie mens jou gesig wegdraai, ons (Israel) het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy ons siektes op Hom geneem en ons smarte gedra. Maar ons het Hom gehou as een wat deur God geslaan en verdruk is. Ter wille van ons oortredings is Hy deurboor en vir ons ongeregtighede verbrysel (sien Gen.3), die straf wat vir ons vrede bring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het soos skape gedwaal, elkeen op sy eie pad, maar die HERE het al ons ongeregtighede op Hom laat neerkom. Hy is mishandel, al is Hy onderworpe, soos 'n lam na die slagplek. Deur verdrukking en oordeel is Hy weggeneem en wie van sy tydgenote dink daaroor dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Weens die oortreding van die volk (Israel) is Hy getref. Hulle het sy graf by goddeloses gegee, maar by 'n ryke is Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en daar geen bedrog in sy mond was nie. Dit is die wil van die HERE om Hom te verbrysel; as sy lewe 'n skuldoffer gegee het, sal Hy 'n saad sien, verlenging van (sy lewens)dae, en die wil van die HERE sal deur Hom voorspoedig wees. Hy sal die resultaat van sy lyding sien en versadig wees: deur kennis van Hom (sy kennis) sal die regverdige Kneg van die HERE baie regverdig maak en hulle skuld dra. Hy sal met magtiges en grotes sy deel hê omdat Hy sy lewe uitstort het in die dood en as een van die oortreders getel is, terwyl Hy baie se sondes gedra het en vir die oortreders ingetree het. Jes.61 - Die Gees van die HERE is op Hom (sien (33) hierbo) en het Hom gesalf om die goeie boodskap aan die ootmoediges (die armes van gees / die mense in nood) aan te kondig. Om die gebrokenes van hart te verbind en vrylating vir die in die gevangenis uit te roep. Om die jaar van die HERE se welbehae uit te roep: God se wraak en troos vir die treurendes, vreugde en lof in plaas van rou en 'n verslae gees. Die treurendes in Sion sal bome van geregtigheid genoem word, deur die Here geplant tot sy verheerliking.
(38) S: Jes.55 - Die verbond met Dawid. Die waters, wyn en melk word verniet aangebied vir almal wat dors het. Kom na Hom toe, luister, en ons siel sal lewe. Hy wil 'n ewige verbond met ons sluit: die betroubare genade van Dawid (vgl. (16)). Die Here het hom tot getuie vir die volke gemaak (vgl (37) hierbo). Hy sal heers oor die nasies (sien (7) (20) (25), veral (26)). Soek die Here, roep Hom aan terwyl Hy nog naby en te vinde is. Laat kwaaddoeners en goddeloses hulle gedagtes en paaie laat staan en hulle na die Here bekeer, want Hy sal vergewe. Sy Woord sal doen waarvoor dit gestuur is. Hulle (Israel/ons) sal met vreugde uittrek en met vrede gelei word. Die doringbome en distels (die tekens van die vloek wat die aarde tref weens die eerste mens se sonde in Gen.3) sal vervang word met groen en hoë bome.
(39) SS: Jes.63:9-10 - Die HERE, die Engel van Sy aangesig (sien (14) - Die Gesalfde?) en Sy Heilige Gees was reeds daar met die verlossing van Israel uit Egipte en die inbring van Israel na die beloofde land (sien ook Josua).